Ons almal ken die verhaal van Jona as die man wat deur die groot vis ingesluk is. Dit is goed om konneksies te maak en die verhale van die Bybel op so wyse tekanonthou. Ons weet ten minste dan waaroor die storielyn gaan. Tog is dit goed om van tyd tot tyd weer die verhale deur te lees, dikwels sien ons dan ander interessante dinge raak binne in hierdie verhale wat ons alreeds ken.
So ook in die verhaal van Jona. Na die vis vir Jona uitgespoeg het, is Jona toe in gehoorsaamheid na die stad Nineve toe, soos wat God hom in die eerste plek beveel het. Eintlik wou Jona nog steeds nie na die stad toe gaan nie. Waarskynlik nie omdat Jona nie aan die Here gehoorsaam wou wees nie, maar omdat hy so min van die mense in Nineve gehou het.
Ons kan natuurlik maklik dink dat hierdie mos nou ’n opdrag van die Here was, so waarom dan die ontsteltenis van Jona se kant? Wel dink dan hieroor na: Dink aan die ding waaroor jy die heel meeste opgewonde raak, dit waarna jy weke lank uitsien. Wanneer die dag dan aanbreek dat jy die geleentheid kry om te doen waaroor jy so opgewonde is, besef jy dat jy dit saam met die persoon moet doen van wie jy die heel minste hou. Nie ’n lekker gedagte om aan te dink nie né! Miskien is dit nogals hoe Jona gevoel het?
Hier kom die gedeelte van die Jona verhaal wat ons nie altyd so mooi onthou nie, maar die gedeelte wat vir my die heel mooiste is. Jona het toe in die stad Nineve rondgeloop en verkondig dat die mense hulself moet bekeer en van hulle sondige wyse moet wegdraai, en so gebeur dit toe nou ook, hulle luister na hom. Jona het kwaad geraak want hy wou eintlik sien hoe God die mense straf, dit sou vir hom plesier gegee het.
Jona het in sy ontevredenheid buite die stad gaan sit, en God het ’n komkommerplant laat opkom om vir hom skaduwee te gee, maar die volgende dag het God ’n wurm ge-stuur wat aan die plant gevreet het en die plant het verdroog en die son het vir Jona op sy kop gesteek. Jona was nou nog meer ontevrede, bitterlik kwaad!
God het vir Jona gevra of hy rede het om kwaad te word en Jona het arrogant geantwoord: “Ek het rede genoeg, ek is besig om te sterf!” Toe kom die antwoord van die Here: Die Here het vir Jona gesê: “Jy is bekommerd oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het, en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?” – Hiermee eindig die boek Jona, maar nie ons verhaal nie.
So mooi as wat ons ookal wil,kanons in die kerk voorgee dat ons almal engele is, maar ons elkeen weet dat ons net onsself flous. Die reali-teit is dat ons almal van tyd tot tyd soos Jona voel, nie omdat ons wil nie, maar omdat dinge in ons lewens gebeur wat ons ontstel. Maklik hoop ons dan dat die Here se wraak ons vyande sal tref, dit sal vir ons die grootste genot gee, en as hul dan hul harte verander, was dit ten minste regverdig in ons oë.
Maar dan kom herinner die Here ons deur die verhaal van Jona dat wraak en straf nie mense se harte verander nie, ook nie eens ons optrede op ons eie manier nie. Net die liefde van die Here kan mense se harte sag maak en spontaan verander, sodat hulle nie meer oor mekaar as vyande dink nie, maar vriende in Christus!
