Dink gou vinnig aan dinge wat nie so lekker was hierdie afgelope week nie – negatiewe dinge. Goed, dink nou aan dinge wat juis lekker was, waaroor jy opgewonde geraak het – positiewe dinge. Vir interessantheid, tel die negatiewe dinge waaraan jy gedink het, en dan die positiewe dinge, en kyk hoeveel daar van elk is.
Die interessante is dat ons dikwels ingestel is om meer van die negatiewe te onthou as die positiewe, en dit word meestal beïnvloed deur die omgewing waarin ons onsself bevind. As iemand daagliks in ‘n negatiewe omgewing leef, is die kanse groter dat daardie persoon se denke self meer en meer negatief sal raak, en dat daardie persoon meer en meer op negatiewe dinge gaan fokus. Die omgekeerde is ook waar, hoe meer iemand in ‘n omgewing van positiewe invloed is, hoe meer begin daardie persoon self op positiewe denke te fokus.
Tog kry mens soms mense wat ten spyte van negatiewe omstandighede en invloede, altyd net hierdie positiwiteitkanraaksien, altyd die lewe in ‘n ander lig benader, altyd iets mooi sien.
Omoor die Here se seëninge te dink, is soos om op positiewe dinge te fokus. Miskien is dit juis om op die positiewe dinge te fokus, die positiewe dinge wat God in ons lewens plaas.
Die wonderlike van seëninge is dat dit daardie positiewe dinge is wat ons nie eens verdien het nie, somtyds daardie wat ons nie eens gesien kom het nie, of nog meer, daardie wat ons eers later besef het alreeds oor ons pad gekom het.
Eintlik laat seëninge mens verstom staan oor dit wat jy beleef op ‘n mooi manier. Dit is daardie dinge wat jou asem weg slaan wanneer jy besef wat gebeur het. Somtyds is dit daardie dinge wat net jy self raaksien, as jy iemand anders wil wys, is dit klaar weg, maar dit laat ‘n glimlag op jou gesig. Of wanneer jy besef dat dinge waarvoor jy gebid het waar geword het, en dikwels op ‘n meer positiewe manier as waarvoor jy self gevra het.
Omdie positiwiteit van die Here se seëninge in oorvloed te ervaar, beteken dat ons daarop ingestel moet wees om ons oë vir hierdie seëninge oop te hou. Andersins sal dit wees soos ‘n foto album met die mooiste foto’s in, maar ons maak nooit die moeite om hierdie album oop te maak en na die foto’s te kyk nie.
Leef dus met ‘n positiewe houding, en mag elkeen van ons die seëninge van die Here in oorvloed beleef.
