Ek lees iets interessant wat iemand geskryf het oor tyd. Hy noem dat daar momente in tyd is! (http://www.jreaux.blogspot.com/)
Hy sê dat ons lewens opgemaak is uit verskillende momente, of dan opeenvolgende momente. Sommige van hierdie momente is lekker, terwyl ander weer sleg is, maar wat belangrik is om te onthou is dat ons keuses in die teenwoordige tyd van ons lewens maak, wat die momente van ons lewens drasties beïnvloed.
Daarom kan daar in een tydstip vir een persoon ‘n moment wees waar ‘n verhouding begin word, en vir ‘n ander persoon ‘n verhouding beëindig word. So alhoewel dit dieselfde moment in tyd is, is dit tog twee afsonderlike momente in hul lewens.
Hoe vinnig tyd in ons lewens dan verby beweeg, het dikwels met ons persepsies te doen. Daarom kan 5min soms soos 1uur voel, en ander kere kan 1uur soms soos 5min voel. Gewoonlik voel slegte of moeilike tye baie lank (die 1uur moment), en die lekker tye in ons lewens weer baie kort (die 5min moment).
Die vraag is dan of ons die lekker oomblikke in ons lewens so kan vas gryp dat dit nie soos 5min voel nie, maar eerder soos ‘n 1uur moment?
Ons het al baie gehoor van “seize the moment”, maar wat beteken dit prakties? Dit beteken om in elke sekond van die minuut te leef! Die hartseer is dat ons aandag soms daarvan afgetrek word om juis elke sekond aan te gryp. Dinge soos inkopielysies, vergaderings wat gehou moet word, moeilikke gesprekke wat gevoer moet word ens. maak dat ons daarop uitmis om die oomblik juis nou vas te gryp. Met ‘n bietjie konsentrasie is dit dus vir ons moontlik om in elke oomblik te leef, en die goeie daarvan juis nou te geniet.
Dit alles is baie mooi, maar baie filosofies. So wat het dit dan enigsins met ons geloofslewe te make?
Presies dieselfde gebeur dikwels wanneer ons stiltetyd hou, of wanneer ons na ‘n boodskap in die kerk wil luister. Ons aandag word afgetrek deur die inkopielyste, vergaderings, moeilikke gesprekke ens, en ons mis uit op die moment waar God met ons wil praat.
Met ‘n bietjie konsentrasie kan ons dus ook die momente van God se stem in ons lewens beleef.
Mag dit dan waar wees dat jy elke mooi moment van jou lewe sal aangryp en vasvang in so veel as moontlik tyd tot jou beskikking! En mag dit waar wees dat jy die momente van God se stem sal koester, wanneer hy met jou praat!
