Die Tiener Jeugkamp wat huidiglik plaasvind se tema is “Survivor”. Survivor reekse reg oor die wêreld trek mense se aandag, en TV kykers sit in spanning voor die skerm om te sien wat volgende gaan gebeur, en wie volgende uitgestem gaan word.
Ons almal het ons gunsteling deelnemer wie ons ondersteun, en hoop dat daardie persoon as wenner sal wegstap! Wanneer daar dan onregverdig in ons oë teenoor daardie persoon opgetree word, dan raak dit soms ons emosies ook. Ons raak saam met daardie deelnemers hartseer en kwaad, maar gelukkig bly ook.
Daar is natuurlik ook baie eienskappe wat maak dat iemand ‘n Survivor reeks kan wen. Maar as ons vinnig moet dink en antwoord sal dit waarskynlik die volgende tipe eienskappe wees: Sterk, slim, goeie leiers eienskappe, ens. Ons dink dus aan die een wat bo die res uitstaan as die persoon wat die potensiaal het om dié Survivor te wees!
Dit is presies hoe ons in ons daaglikse lewens ook dikwels oor mense dink wat uitstaan. Mense wat ‘n naam gemaak het, maar ons kan nie by hulle uitkom nie. Die groot sporthelde van die wêreld, bekende skrywers, en soms ook die regverdige politici. Ons brandmerk dikwels sulke mense as die Survivors van ons tyd!
Die realiteit is egter dat dit voel of ons almal somtyds in ons lewens besig is om net net te survive. Ons weet nie altyd hoe nie, maar op een of ander manier weet ons dat ons bo moet uitkom. En dan slaan die golwe van die lewe weer en weer oor ons koppe. So dikwels as ons om ons kyk sien ons niks of niemand raak nie, want dit voel vir ons of almal besig is om self te probeer survive.
Ons kyk dikwels met verkeerde oë na wie die regte survivors van die lewe is. Dit is nie altyd die mense wie ons raaksien op die televisie nie, maar eerder die mense wat rondom hulle kan kyk, en raaksien waar ander mense hulp nodig het om te kan survive. Dit is die mense wat bereid is om stil te staan en iemand se hand te neem, wat nie besig is om te survive nie, en daardie persoon te oortuig dat hulle saam gaan survive!
Die boodskap van die Bybel is nie ‘n boodskap van idividualisme om te kyk wie bo gaan uitkom nie, maar ‘n boodskap van saamstaan as ‘n groep. As ons bo wil uitkom, moet ons as ‘n groep bo uitkom. Bo kan enige plek wees, tans is bo om ons lewens voluit te kan leef tot God besluit ons blaas ons laaste asems uit, maar bo beteken ook almal saam in die hemel.
Om ‘n survivor te wees is dan nie om alleen deur die lewe te gaan nie, maar eerder juis saam met ander mense die lewenspad te stap. Ons moet dus ons oë oophou vir mense wat tans moeilik survive, maar tegelyke tyd moet ons ook bereid wees om vir mense te vertel wanneer ons nie survive nie! Op hierdie wyse kan ons na mekaar omsien, en seker maak dat ons almal survivors is!
