Die draai van seisoene

Posted: March 17, 2010 in Life - Meaning - Believing

Ek is ‘n absolute somer kind! Soms so erg dat ek dalk selfs moet erken dat dit somtyds voel of ek net vir die somer leef. Die winters voel te koud en liefdeloos. Ek hou nie daarvan as alles vaal word en dit selfs lyk of die bome dood is nie.

 Alles verander egter nie in een dag nie. Dit vind stadig maar seker plaas. Ons is juis nou in so draai tydperk van die seisoene. Hou dit bietjie dop! Of as u miskien ‘n digitale kamera het, neem elke 2de dag een foto van dieselfde boom, en vergelyk die fotos met mekaar oor die volgende twee of drie weke. Kyk hoe die die kleure verander, en hoe die blare mettertyd alles verdwyn.

 Maar omdat die blare verwyn en alles vaal word, beteken dit nie dat daar nie lewe is nie! Die lewe is nou net sigbaar in ‘n ander vorm. Soms dink ons daaraan dat die seisoene ‘n sirkel vorm, soos ‘n horlosie. Wanneer die wysers kwart pad bereik is dit herfs, met halfpad is dit winter, driekwart pad lente, en wanneer die wysers weer by 00:00 (12uur) kom is dit somer.

 Gedeeltelik is dit waar, maar dan sou dit ook beteken dat elke seisoen presies dieselfde as die vorige seisoene moes wees, en dit is nie waar nie. Ons moet eerder dink aan ‘n opgewende staal veer (coil spring). Dieselfde tipe sirkels herhaal, maar elke keer op ‘n volgende tydvlak.As mens dus sou kyk na ‘n plat ronde staal voorwerp, sou mens die heeltyd by die een selfde swak punt uitgekom het, maar as mens na die opgewende veer kyk, kan daar op verskillende plekke, swak plekke of merke wees.

 Miskien kan hierdie beeld van ‘n opgewende veer ook ons lewens beskryf. Elkeen van ons sou dan die opgewende veer wees, en die draaie is seisoene van ons lewens. Ons lewens maak dikwels dieselfde draai, maar op verskillende ouderdomme. Soms is daar genoeg tyd om te herstel wanneer daar ‘n slegte merk op ons gekom het, en dan kan ons so soortgelyke situasie hierdie keer met groter wysheid aanpak. Maar dit gebeur ook soms dat daar te veel merke te vinnig na mekaar op ons lewens gemaak word, en dan voel dit of ons alleen in ‘n winter seisoen is, droog en vaal.

 Ons almal se lewens maak hierdie draaie wat ons laat voel of ons in die verskillende seisoene is. Ongelukkig en ook gelukkig is ons almal nie op dieselfde tyd in dieselfde seisoen nie.

 Ongelukkig, want ons sien somtyds net die somer en die lente in ons eie lewens raak, en kyk mis hoe iemand anders in ‘n winter tyd moedeloos sit. Maar ook gelukkig, want as ons almal op een slag in die winter tyd moes wees, hoe sou ons mekaar daaruit kon help?

 Jesus self het ook sulke seisoene in Sy lewe ervaar. Die gesprek in Joh 4 met die vrou by die put, is ‘n somer verhaal, maar Sy kruisdood, en veral die woorde: “My God, My God, waarom het U my verlaat?”, is ‘n winter verhaal. Maar selfs hierna was daar nog hoop, want daar was weer ‘n somer op pad!

 Maak nie saak in watter seisoen ons van ons lewens is nie, ons moet altyd bly bid dat God saam met ons sal wees in daardie seisoen. Verder moet ons ook ons oë oophou, en met behulp van die Heilige Gees mense bystaan wat sukkel om uit ‘n winter seisoen te kom. En laastens, mag ons almal in ons lewens, iets van God se gee van lewe, in elke seisoen van ons lewens ervaar!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s