
Rentmeesters van ons wêreld!
As Christene vra ons vrae wat handel oor ons geestelike lewe. Gaan dit goed met ons geestelike lewens? Ervaar ons dat ons geestelik groei? Hoor ons God se stem? En nog baie ander sulke vrae.
Dit is slegs ’n deel van die Christelike lewe. Daar is eintlik soveel meer as net die geestelike deel van ons lewe. As ons net na die geestelike deel kyk, dan gebeur dit maklik dat ons eintlik maar net op Sondae bewus is van ons Christenskap.
Wanneer ons sommer aan die begin van die Bybel lees, in Genesis 1 en 2, dan sien ons dat God die hemel en die aarde geskep het, en alles wat daarmee saamgaan. Nog meer as dit, God het die mens in beheer van al hierdie dinge geplaas. Ons moet daaroor heers. Genesis 2:15 in die Nuwe Lewende vertaling sê: “Die Here God het die mens in die Tuin van Eden aan-gestel om dit te bewerk en te versorg.”
Is dit nie dan juis nog ’n aspek van ons Christenskap nie? Om met ander woorde eintlik nie net die heeltyd vrae te vra oor hoe dit met ons geestelike lewens gaan nie, maar hoe dit gaan met hierdie opdrag wat al reeds aan die begin van tye vir ons gegee is. Kom ons hierdie opdrag na? Heers ons sinvol en as goeie rentmeesters oor hierdie aarde wat aan ons gegee is? Versorg ons die aarde mooi?
Sien, as ons net oor ons eie geestelike welvaart omgee, dan mis ons eintlik ’n deel van ons roeping en ons opdrag. Die Here sê eintlik vir ons dat ons juis na hierdie wonderlike aarde moet omsien wat Hy met liefde vir ons geskep het.
Wat vra dit dan van ons? Wel, verbeel jou jy staan iewers buite in die natuur, langs ’n rivier of op ’n koppie, en jy kyk om jou rond. Wat sien jy raak wat vir jou kosbaar is, wat jy graag sal wil hê bewaar moet word vir ander mense om te sien? Dit vra van ons om soms anders op te tree in ons omgewings, sodat ander mense ook kan ervaar wat ons ervaar. Miskien is dit mense wat nog nie nou al gebore is nie, mis-kien is dit mense wat eers oor 5 of 10 jaar sal leef.
Hoe versorg ons dan as goeie rentmeesters die aarde op so ’n wyse, dat ander mense later die kosbare daarvan kan ervaar?
Miskien begin dit sommer net by ons houding, waarmee ons klein dingetjies doen. Dit kan so maklik gebeur dat ons dink hierdie saak het niks met my of jou te doen nie. Ons dink dat hierdie boodskap eintlik net vir groot nywerhede is. Ek hoor in die week dat die algemene Suid-Afrikaanse gesin so ongeveer drie en ’n half olimpiese swembaddens se koolsuurgas jaarliks vrystel. Dit gaan oor wat ek en jy doen en hoe ons dit doen!
Dit gaan oor die houding van: “Bewaar en versorg ter wille van ander”, teenoor die houding van: “Ek gee nie om oor die ander nie, want op hierdie stadium leef ek lekker.” Die opdragte van God het nog nooit oor die “ek” gegaan nie, maar nog altyd oor die “ons”!
Mag ons elkeen dan twee keer dink wanneer ons selfs die kleinste lekkergoedpapiertjie wil neergooi! Mag ons leer om produkte te herwin wat herwinbaar is! En mag ons met God se hulp hierdie kosbare aarde versorg!