Ons almal hou van sekere dinge meer as ander dinge!  As ons sou kon kies sou ons sekerlik net dinge gedoen het wat vir ons lekker is.  Tog is die realiteit van die lewe dat daar ’n verskeidenheid van dinge is wat ons moet doen, en dit sluit ook in om dinge te doen wat nie so lekker is nie.  Ons kan nou maar een maal vir Adam en Eva of die bose slang die skuld gee omdat ons so hard moet werk, maar dit gaan ook nie die realiteit van die minder lekker dinge in die lewe verander nie!

Die hartseer is egter net dat baie van ons spandeer ’n groot deel van ons lewens om dinge te doen wat ons nie noodwendig haat nie, maar wat nie regtig vir ons plesier en
energie gee nie!  Dan begin dit voel asof ons energie uit ons uitgetap word en ons raak soms negatief.

Miskien is die beste manier om dit te verduidelik deur twee dinge met mekaar te vergelyk.  Dink daaraan dat jy by die werk vir twee dae lank aanmekaar vergaderings sal moet hou oor ’n saak wat jou glad nie interesseer nie (as jy in die skool is kan jy dink aan 2 dae se klasse die hele dag lank), en dink dan aan die ander kant aan twee dae se vakansie by enige plek van jou keuse.  Dit is sekerlik nie moeilik om te raai watter een die glimlag op ons gesig sal plaas nie!

Dit is sekerlik waar dat baie van ons miskien nooit ons droomvakansie salkanlaat waar word nie, bloot net oor finansiële redes, maar dit beteken nie dat daar nie ander dinge is wat vir ons plesier in die lewe gee nie.

Die hartseer is dat ons dikwels so min tyd hieraan spandeer.  Ons lewens is soms ’n gejaag na wind en ons vergeet om tyd te spandeer aan dinge wat vir ons lekker is, en dinge wat ons, ons gesinne en ons families insluit.

Natuurlik kan ons nie 365 dae van die jaar dinge van ons eie keuse doen nie, maar daar is genoeg dae binne hierdie 365 dae siklus wat ons tyd sal kan spandeer aan dinge wat vir ons lekker is.  Maak daardie dae die moeite werd deur dinge te doen wat die lewe vir jou lekker en betekenisvol maak, dinge wat vir jou weer energie gee!

Miskien kan dit ietsie klein wees, byvoorbeeld dat voor julle getrou het, het julle gedink om ten minste een maal per week saam koffie te gaan drink by ’n oulike koffie winkel, of ten minste 1 maal per jaar wil julle ’n familie naweek hou, miskien het jy belowe jy gaan elke Saterdag daardie sportwedstryd van jou kind bywoon, of dalk wil jy net een keer ’n maand iewers wegbreek waar dit stil en rustig is …

Het jy daarby uitgekom?  Tyd wat in die verlede is, kan nooit weer teruggekoop word nie, ons kan daaraan niks verander nie, maar die tyd wat in die toekoms is, kan ons wel meer sinvol gebruik!

Onthou:  Daar is nooit ’n beter tyd as nou om iets te doen, of te begin beplan vir iets wat jy graag wil doen nie!

Ons almal ken die verhaal van Jona as die man wat deur die groot vis ingesluk is.  Dit is goed om konneksies te maak en die verhale van die Bybel op so wyse tekanonthou.  Ons weet ten minste dan waaroor die storielyn gaan.  Tog is dit goed om van tyd tot tyd weer die verhale deur te lees, dikwels sien ons dan ander interessante dinge raak binne in hierdie verhale wat ons alreeds ken.

So ook in die verhaal van Jona.  Na die vis vir Jona uitgespoeg het, is Jona toe in gehoorsaamheid na die stad Nineve toe, soos wat God hom in die eerste plek beveel het.  Eintlik wou Jona nog steeds nie na die stad toe gaan nie.  Waarskynlik nie omdat Jona nie aan die Here gehoorsaam wou wees nie, maar omdat hy so min van die mense in Nineve gehou het.

Ons kan natuurlik maklik dink dat hierdie mos nou ’n opdrag van die Here was, so waarom dan die ontsteltenis van Jona se kant?  Wel dink dan hieroor na:  Dink aan die ding waaroor jy die heel meeste opgewonde raak, dit waarna jy weke lank uitsien.  Wanneer die dag dan aanbreek dat jy die geleentheid kry om te doen waaroor jy so opgewonde is, besef jy dat jy dit saam met die persoon moet doen van wie jy die heel minste hou.  Nie ’n lekker gedagte om aan te dink nie né!  Miskien is dit nogals hoe Jona gevoel het?

Hier kom die gedeelte van die Jona verhaal wat ons nie altyd so mooi onthou nie, maar die gedeelte wat vir my die heel mooiste is.  Jona het toe in die stad Nineve rondgeloop en verkondig dat die mense hulself moet bekeer en van hulle sondige wyse moet wegdraai, en so gebeur dit toe nou ook, hulle luister na hom.  Jona het kwaad geraak want hy wou eintlik sien hoe God die mense straf, dit sou vir hom plesier gegee het.

Jona het in sy ontevredenheid buite die stad gaan sit, en God het ’n komkommerplant laat opkom om vir hom skaduwee te gee, maar die volgende dag het God ’n wurm ge-stuur wat aan die plant gevreet het en die plant het verdroog en die son het vir Jona op sy kop gesteek.  Jona was nou nog meer ontevrede, bitterlik kwaad!

God het vir Jona gevra of hy rede het om kwaad te word en Jona het arrogant geantwoord:  “Ek het rede genoeg, ek is besig om te sterf!”  Toe kom die antwoord van die Here:  Die Here het vir Jona gesê: “Jy is bekommerd oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het, en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood.  Maar ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?” – Hiermee eindig die boek Jona, maar nie ons verhaal nie.

So mooi as wat ons ookal wil,kanons in die kerk voorgee dat ons almal engele is, maar ons elkeen weet dat ons net onsself flous.  Die reali-teit is dat ons almal van tyd tot tyd soos Jona voel, nie omdat ons wil nie, maar omdat dinge in ons lewens gebeur wat ons ontstel.  Maklik hoop ons dan dat die Here se wraak ons vyande sal tref, dit sal vir ons die grootste genot gee, en as hul dan hul harte verander, was dit ten minste regverdig in ons oë.

Maar dan kom herinner die Here ons deur die verhaal van Jona dat wraak en straf nie mense se harte verander nie, ook nie eens ons optrede op ons eie manier nie.  Net die liefde van die Here kan mense se harte sag maak en spontaan verander, sodat hulle nie meer oor mekaar as vyande dink nie, maar vriende in Christus!

Sommige van ons hou van die winter, en ander van ons hou weer nie daarvan nie.

Tog het die winter natuurlik sy mooi al hou jy miskien nie so baie daarvan nie. Byvoorbeeld wanneer die sneeu op die berge lê en die son se weerkaatsing bring ‘n kristal helder glans daarop na voorskyn, dan is dit doodeenvoudig net sprokies mooi. Of, as mens so gelukkig is om in die Winter maande in die Kaap te draai met sy winter reënval, dan tref die groen van die grasvlaktes jou.

Wanneer jy egter aan die korter ent trek van warm klere en toe skoene, dankandit maar hoe mooi wees, die winter bly vir jou dood eenvoudig net koud!

Dit is interessant hoe dit werk, dink jouself maar in: Wanneer jy koud kry dan begin jou konsentrasie af te neem , en op daardie stadium begin mens meer en meer daarop te konsentreer om weer warm te word, eerder as iets mooi wat rondom jou is om te aanskou.

Die realiteit is dat mens ook nie die weer kan bepaal nie, en as te ware word ons eintlik net elke keer onverwags betrap deur die koue, ten speite van weer voorspellings. Die verskil is egter dat sommige mense hulself teen die kouekanbedek, maar ander het regtig niks om dit mee te doen nie.

Daarom probeer ons so hard as moontlik om mense in ons omgewing te help teen die koue.

Wanneer ons dan hande uit steek na mekaar om juis die lewe op fisiese vlak ook beter te probeer maak, dan verstaan ons iets van wat Jesus kom doen het hier op aarde. Hy het juis ook omgegee vir mense se fisiese welstand, en nie net na hul geestelike welstand nie.

Dankie vir elkeen se ondersteuning om mense se fisiese behoeftes te verlig.

Ons sê so maklik: Ons glo! Maar wat glo ons, of nog dieper, hoekom glo ons?

Daar is ‘n woord wat gebruik word om die betekenis van iets regtig tot in die kleinste vorm af te breuk, daardie woord is: “dekonstruksie” of “dekonstrueer”. Kom ek vra weer die vraag: Hoekom glo ons? Dink hierdie keer vir ‘n oomblik regtig diep oor hierdie vraag na.

Geloof maak een oomblik ten volle sin, en ‘n volgende oomblik maak dit glad nie sin nie. Dikwels gebeur dit dat hoe meer ons hierdie vrae uit probeer redeneer, hoe minder maak dinge vir ons sin. Ons almal ken hierdie geestelike worsteling, en as jy dit al ooit beleef het, weet dat jy nie die enigste een is nie.

Nog meer, wanneer ons hierdie soort vrae probeer uit redeneer, soek ons gewoonlik feite om dit mee te beantwoord. Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd nie. Al wat ons egter moet onthou is dat feite ook beperkings het binne ons verstaan van die lewe, maw: wat vir mense onmoontlik lyk, is wel vir God moontlik, en dit maak geloof duikwels vir ons moeilik.

Tog is daar baie dinge wat onskanopnoem waarin ons glo, inteendeel bely ons dikwels ons geloof op Sondae in die kerk deur die geloofsbelydenis op te sê:    

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe. Amen

As een van hierdie dinge nie waar sou wees nie, sou dit enigsins ‘n verskil gemaak het aan ons geloof? Miskien moet ek so vra: Bou ons ons geloof op grond van feite wat bewyskanword? Ons sou moontlik as ‘n eerste antwoord op hierdie laaste vraag JA antwoord. Wanneer ons dit egter gaan dekonstrueer dan besef ons eintlik dat ons glo, nie omdat ons glo sekere feite is waar nie, maar ons glo omdat ons ‘n verhouding met God het! Hierdie verhouding maak dat ons op Godkanvertrou. ‘n Verhouding wat God eintlik eerste met ons begin het.

Dit is met hierdie verhouding wat ons regtig moeite moet maak, nie met die bewys van feite nie! Geloof is een van daardie verstaanbare onvertaanbare dinge. Wanneer mens te lank oor die feite dink, dan raak geloof dikwels onverstaanbaar, maar wanneer mens meer en meer aan die verhouding tussen jou en God aandag gee, dan verstaan mens tog iets van God se liefde, Sy nabyheid, en Sy rol in ons en ander mense se lewens. Dit is immers deur geloof dat onskansê ons glo in die bybelse feite.

Seëninge

Posted: May 4, 2011 in Life - Meaning - Believing

Dink gou vinnig aan dinge wat nie so lekker was hierdie afgelope week nie – negatiewe dinge. Goed, dink nou aan dinge wat juis lekker was, waaroor jy opgewonde geraak het – positiewe dinge. Vir interessantheid, tel die negatiewe dinge waaraan jy gedink het, en dan die positiewe dinge, en kyk hoeveel daar van elk is.

Die interessante is dat ons dikwels ingestel is om meer van die negatiewe te onthou as die positiewe, en dit word meestal beïnvloed deur die omgewing waarin ons onsself bevind. As iemand daagliks in ‘n negatiewe omgewing leef, is die kanse groter dat daardie persoon se denke self meer en meer negatief sal raak, en dat daardie persoon meer en meer op negatiewe dinge gaan fokus. Die omgekeerde is ook waar, hoe meer iemand in ‘n omgewing van positiewe invloed is, hoe meer begin daardie persoon self op positiewe denke te fokus.

Tog kry mens soms mense wat ten spyte van negatiewe omstandighede en invloede, altyd net hierdie positiwiteitkanraaksien, altyd die lewe in ‘n ander lig benader, altyd iets mooi sien.

Omoor die Here se seëninge te dink, is soos om op positiewe dinge te fokus. Miskien is dit juis om op die positiewe dinge te fokus, die positiewe dinge wat God in ons lewens plaas.

Die wonderlike van seëninge is dat dit daardie positiewe dinge is wat ons  nie eens verdien het nie, somtyds daardie wat ons nie eens gesien kom het nie, of nog meer, daardie wat ons eers later besef het alreeds oor ons pad gekom het.

Eintlik laat seëninge mens verstom staan oor dit wat jy beleef op ‘n mooi manier. Dit is daardie dinge wat jou asem weg slaan wanneer jy besef wat gebeur het. Somtyds is dit daardie dinge wat net jy self raaksien, as jy iemand anders wil wys, is dit klaar weg, maar dit laat ‘n glimlag op jou gesig. Of wanneer jy besef dat dinge waarvoor jy gebid het waar geword het, en dikwels op ‘n meer positiewe manier as waarvoor jy self gevra het.

Omdie positiwiteit van die Here se seëninge in oorvloed te ervaar, beteken dat ons daarop ingestel moet wees om ons oë vir hierdie seëninge oop te hou. Andersins sal dit wees soos ‘n foto album met die mooiste foto’s in, maar ons maak nooit die moeite om hierdie album oop te maak en na die foto’s te kyk nie.

Leef dus met ‘n positiewe houding, en mag elkeen van ons die seëninge van die Here in oorvloed beleef.

In die verlede is geglo dat mense wat die meeste dinge ervaar het, die mees gevorderd is in jare, of die meeste opvoeding ontvang het, dié is met die meeste wysheid.

Vir dekades lank is individue uitgsonder as draers van kennis wanneer hulle die wysheid het om te besluit oor wat reg of verkeerd is. Die siening het dus gedraai oor ek en jy elkeen met ons eie kennis, waarvan ons die draers is.

Tog is daar niks so wys nie, soos om deel te wees van ‘n groeiende, dinamiese groep mense, ‘n gemeenskap wat intiem betrokke is by mekaar, wat insprake het in mekaar se lewens en wat deur liefde elke aksie toets aan die hand van opbouende terugvoering van die groep waaraan hulle behoort.

Die Westerse samelewing waarvan ons deel is het die persepsie op die tafel geplaas dat wysheid verkry en beoefen kan word op jou eie, maar eintlik word daar al hoe meer besef dat die geheim van wysheid verborge is in die konsep van saam wees, en nie in die idee van individuele studie of persoonlike kennis nie.

Die kern van ware wysheid is dus verhoudingsgedrewe!

Wanneer ons vanuit ons godsdienstige perspektief oor wysheid dink, dan besef ons dat wysheid nie maar net van ons self af kan kom nie. God is die die draer en die gewer van wysheid. Sonder God sou ons kennis niks beteken het nie!

Die wese van die kerk en christenskap in opsig self is tog om verhoudingsgedrewe te wees en as ‘n groep te funksioneer, en nie individueel nie. Juis hierdie hart van God wat wil hê dat ons deel moet wees van Sy groep, maak ook dat ons, ons wysheid binne in hierdie groep moet deel, en nie vir ons self hou nie. Dit is ware wysheid, die wysheid wat oorgedra kan word aan ander en vir hulle ook van betekenis kan wees.

Natuurlik kom wysheid ook met groot verantwoordelikheid. Wanneer mens besef dat jy wysheid het kan dit so maklik gebeur dat daardie wysheid verkeerdelik aangewend word. Dit is dan wanneer mense hul wysheid gebruik om skade aan te rig eerder as om dit opbouend te gebruik. God gee tog vir ons wysheid om Sy Koninkryk ‘n beter plek te maak.

Op die ou einde van die dag as ons wysheid sien as deel van ‘n verhoudings netwerk, dan sal ons weerhou word daarvan om besluite te neem wat lei tot emosionele bankrotskap, en eventuele self vernietiging.

Om intelligent te leef het min te make met akademiese kwalifikasies of breinkrag. Ten diepste het wysheid te make daarmee om ander intiem te ken, om ons self toe te laat om deel van ‘n vervlegte gemeenskap te wees, en laasten om ons self oop te maak sodat ons geken kan word deur ander, en God self.

“The stupidest thing you can do in this life, is to try and live it by yourself!”

(Met verwysing na Mynhardt F van Pletsen : http://mynhardtvanpletsen.me/ )

Hou kop bo water

Posted: February 17, 2011 in Life - Meaning - Believing

Hou kop bo water

Die goue reël wanneer dinge verskriklik besig gaan is: As jy nie in beheer is nie, lyk ten minste net in beheer.

Hierdie jaar het beslis weggespring met die versnelling van ’n jet enjin! My kop sê dit moet die middel van die eerste maand wees, terwyl die kalender al mik na die derde maand. Ek kan nie eens sê dat ek my eie verjaarsdag gaan mis nie, want ek het alreeds.

Die realiteit is dat ons in ’n wêreld woon waar tyd nie stil staan nie, mense raak ongeduldig wanneer hulle moet wag, en die tempo hiervan raak net dood eenvoudig nie rustiger nie.

Die mense wat geleef het in die tyd waarvan ons lees in die Bybel, het nie hierdie gejaag geken nie. Hulle was mense wat tyd gemaak het vir mekaar, bereid was om te wag vir mekaar. Hulle is mense wat nie die druk van ’n industrie geken het nie. Mens sou amper kon sê dat meer moeite gemaak het met mense verhoudings, saam kuier, as om hard te werk sodat daar aan die einde van die maand nog ’n werk en ’n salaris kan wees.

In Eksodus 16 lees ons hoe hulle eerstehands op ’n daaglikse basis afhanklik was van die Here se sorg. Hulle was besig om weg te trek uit Egipte, en hulle het nie meer kos gehad nie. Gemoedere het begin hoog loop en die ongeduld was waarskynlik orals sigbaar. En dan beloof die Here om hulle nie te verlaat nie, hy sal vir Sy mense omgee. Die Here het toe aan hulle kwartels en manna gegee, sonder dat hulle dit verdien het, en sonder dat hulle daarvoor gewerk het.

Dit is egter waar dat mens nie net jou werk kan los en wegloop sonder dat jy ’n ander opsie op die tafel het nie. Dit is ongelukkig die realiteit van die tyd waarin ons woon.

Die hartseer is egter dat mens eers dikwels later in jou lewe besef dat jy die gejaag van die samelewing probeer bestuur het, en van die mense wat die naaste aan jou is vergeet het. Mag daar dan iets van die bybelse tydsbestuur waar wees in ons lewens, dat ons tyd sal maak vir die mense wat die naaste aan ons is. Mag ons tyd maak, om tyd te laat stilstaan en mooi herinneringe saam ons geliefdes te kweek.

Laastens: Mag ons rondom ons kyk en mense ondersten wat hulle arms swaai omdat hulle verdrink in die gejaagdheid van die samelewing.

Stephan Joubert skryf in die week die volgende: “Practical wisdom is to know the difference between waving and drowning when someone else is in the deep water.”

Ek lees iets interessant wat iemand geskryf het oor tyd. Hy noem dat daar momente in tyd is! (http://www.jreaux.blogspot.com/)

Hy sê dat ons lewens opgemaak is uit verskillende momente, of dan opeenvolgende momente. Sommige van hierdie momente is lekker, terwyl ander weer sleg is, maar wat belangrik is om te onthou is dat ons keuses in die teenwoordige tyd van ons lewens maak, wat die momente van ons lewens drasties beïnvloed.

Daarom kan daar in een tydstip vir een persoon ‘n moment wees waar ‘n verhouding begin word, en vir ‘n ander persoon ‘n verhouding beëindig word. So alhoewel dit dieselfde moment in tyd is, is dit tog twee afsonderlike momente in hul lewens.

Hoe vinnig tyd in ons lewens dan verby beweeg, het dikwels met ons persepsies te doen. Daarom kan 5min soms soos 1uur voel, en ander kere kan 1uur soms soos 5min voel. Gewoonlik voel slegte of moeilike tye baie lank (die 1uur moment), en die lekker tye in ons lewens weer baie kort (die 5min moment).

Die vraag is dan of ons die lekker oomblikke in ons lewens so kan vas gryp dat dit nie soos 5min voel nie, maar eerder soos ‘n 1uur moment?

Ons het al baie gehoor van “seize the moment”, maar wat beteken dit prakties? Dit beteken om in elke sekond van die minuut te leef! Die hartseer is dat ons aandag soms daarvan afgetrek word om juis elke sekond aan te gryp. Dinge soos inkopielysies, vergaderings wat gehou moet word, moeilikke gesprekke wat gevoer moet word ens. maak dat ons daarop uitmis om die oomblik juis nou vas te gryp. Met ‘n bietjie konsentrasie is dit dus vir ons moontlik om in elke oomblik te leef, en die goeie daarvan juis nou te geniet.

Dit alles is baie mooi, maar baie filosofies. So wat het dit dan enigsins met ons geloofslewe te make?

Presies dieselfde gebeur dikwels wanneer ons stiltetyd hou, of wanneer ons na ‘n boodskap in die kerk wil luister. Ons aandag word afgetrek deur die inkopielyste, vergaderings, moeilikke gesprekke ens, en ons mis uit op die moment waar God met ons wil praat.

Met ‘n bietjie konsentrasie kan ons dus ook die momente van God se stem in ons lewens beleef.

Mag dit dan waar wees dat jy elke mooi moment van jou lewe sal aangryp en vasvang in so veel as moontlik tyd tot jou beskikking! En mag dit waar wees dat jy die momente van God se stem sal koester, wanneer hy met jou praat!

 

Die keuse lê in jou hand!

Posted: October 27, 2010 in Uncategorized

Van tyd tot tyd in ons lewens gebeur daar soms iets wat ons nie weet wat om mee te maak nie. Ons kan dit nie vir ons self hou nie, en dit is verskriklik moeilik om na iemand toe te gaan en te vertel wat gebeur het. Vele van ons ken die gevoel van jou pa se motor stamp, die magteloosheid van die realiteit! Kan ek nie maar net ‘n paar minute terugbweeg in die verlede, en ‘n ander afdraaipad neem nie?

Somtyds maak ons bewustelik keuses, ander kere bevind ons, ons ongelukkig net in ‘n ongewensde situasie, maar in beide gevalle is die realiteit dat mens op ‘n manier moet vorentoe beweeg. Dikwels smag ons na ons asems as ons dink aan die opsies wat daar is rondom vorentoe beweeg.

Dit is dan wanneer dit vir ons begin lyk asof daar geen goeie positiewe opsies meer bestaan nie. Elkeen wat ons alreeds oorweeg het, en nou weer heroorweeg, maak net glad nie sin nie.

Die realiteit is dat min dinge in die lewe beter word as ons nie mense in die oë kyk, en reguit praat nie. Ja, soms maak die waarheid seer, maar die waarheid maak ook vry. ‘n Verligtende gevoel kom oor ons harte, ‘n gevoel van : Ek kon uiteindelik dit van my hart af kry.

In Johannes 8:31-47 lees ons die verhaal waar Jesus vir die Jode vertel dat die waarheid hulle sal vry maak. Dan beweer hulle dat hulle niemand se slawe is nie. Jesus antwoord met ‘n skerp antwoord en sê: “Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde…Maar nou wil julle My doodmaak, vir my wat die waarheid wat ek by God gehoor het, aan julle verkondig”.

Ons kan die waarheid hier op 2 maniere verstaan. Eerstens dat hierdie Jode oneerlik was teenoor hulle self. Hulle was vasgevang in sonde, en het van die waarheid vergeet. Tweedens ook dat Jesus eintlik vir hulle kom sê dat Hy die waarheid is. As hulle Hom net sou glo en sou aanvaar, dan is Hy die Waarheid wat hulle kan kom vry maak van die sonde.

As ons dan kinders van God is moet ons besef dat Jesus ons waarheid is, dat as Hy in ons lewens is, dan is ons bevry van die dinge wat ons weerhou om hemel toe te gaan. Jesus kom verklaar ons as skoon en sondeloos voor Sy Vader.

Tog het elkeen van ons ook die wil en vryheid om ons eie keuses in die lewe te neem. Die keuse lê dus in jou en my hand of ons die waarheid gaan vertel wanneer ons in daardie ongewensde situasie beland, maar onthou hierdie een ding: God vra van ons om die waarheid te praat, want die Waarheid leef in ons!

 

Ons is Survivors

Posted: October 27, 2010 in Uncategorized

Die Tiener Jeugkamp wat huidiglik plaasvind se tema is “Survivor”. Survivor reekse reg oor die wêreld trek mense se aandag, en TV kykers sit in spanning voor die skerm om te sien wat volgende gaan gebeur, en wie volgende uitgestem gaan word.

Ons almal het ons gunsteling deelnemer wie ons ondersteun, en hoop dat daardie persoon as wenner sal wegstap! Wanneer daar dan onregverdig in ons oë teenoor daardie persoon opgetree word, dan raak dit soms ons emosies ook. Ons raak saam met daardie deelnemers hartseer en kwaad, maar gelukkig bly ook.

Daar is natuurlik ook baie eienskappe wat maak dat iemand ‘n Survivor reeks kan wen. Maar as ons vinnig moet dink en antwoord sal dit waarskynlik die volgende tipe eienskappe wees: Sterk, slim, goeie leiers eienskappe, ens. Ons dink dus aan die een wat bo die res uitstaan as die persoon wat die potensiaal het om dié Survivor te wees!

Dit is presies hoe ons in ons daaglikse lewens ook dikwels oor mense dink wat uitstaan. Mense wat ‘n naam gemaak het, maar ons kan nie by hulle uitkom nie. Die groot sporthelde van die wêreld, bekende skrywers, en soms ook die regverdige politici. Ons brandmerk dikwels sulke mense as die Survivors van ons tyd!

Die realiteit is egter dat dit voel of ons almal somtyds in ons lewens besig is om net net te survive. Ons weet nie altyd hoe nie, maar op een of ander manier weet ons dat ons bo moet uitkom. En dan slaan die golwe van die lewe weer en weer oor ons koppe. So dikwels as ons om ons kyk sien ons niks of niemand raak nie, want dit voel vir ons of almal besig is om self te probeer survive.

Ons kyk dikwels met verkeerde oë na wie die regte survivors van die lewe is. Dit is nie altyd die mense wie ons raaksien op die televisie nie, maar eerder die mense wat rondom hulle kan kyk, en raaksien waar ander mense hulp nodig het om te kan survive. Dit is die mense wat bereid is om stil te staan en iemand se hand te neem, wat nie besig is om te survive nie, en daardie persoon te oortuig dat hulle saam gaan survive!

Die boodskap van die Bybel is nie ‘n boodskap van idividualisme om te kyk wie bo gaan uitkom nie, maar ‘n boodskap van saamstaan as ‘n groep. As ons bo wil uitkom, moet ons as ‘n groep bo uitkom. Bo kan enige plek wees, tans is bo om ons lewens voluit te kan leef tot God besluit ons blaas ons laaste asems uit, maar bo beteken ook almal saam in die hemel.

Om ‘n survivor te wees is dan nie om alleen deur die lewe te gaan nie, maar eerder juis saam met ander mense die lewenspad te stap. Ons moet dus ons oë oophou vir mense wat tans moeilik survive, maar tegelyke tyd moet ons ook bereid wees om vir mense te vertel wanneer ons nie survive nie! Op hierdie wyse kan ons na mekaar omsien, en seker maak dat ons almal survivors is!